VINGERWYS NIE OPLOSSING VIR SWAK MATRIEKUITSLAE NIE
Comment by Gordon March
Posted 27 January 2010
In reaksie op Mnr H.S. van der Merwe se brief, Gemsbok 15 Januarie 2010, reageer SADOU graag as volg :
Ons is teleurgetseld met sy kortsigtige en eensydige analise van die faktore wat moontlik bygedra het tot die daling in die 2009 matriek uitslae in die Noord-Kaap.
SADOU is eweneens ontevrede met die 61.3% slaagsyfer, maar ons dink nie dat dit korrek is om onderwysers of hul unies teenoor mekaar af te speel nie. Ons verwag van ‘n onderwysersunie om eenheid en solidariteit tussen alle onderwysers te bevorder en nie verdeeldheid nie, soos mnr. Van der Merwe in sy skrywe te kenne gee. SAOU skep dus ‘n wanpersepsie onder die publiek dat dit net goed gaan in skole waar hulle lede onderwysers is. Onderwysers werk in verskillende kontekste en omstandighede. Ongelukkig is dit so dat SAOU lede in skole werk waar ryk en middelklasouers (dokters, prokureurs, onderwysers, ens) kan bekostig om dié skole van die nodige leer- , onderrig- en ondersteunings hulpbronne te voorsien. Dus kan ‘n mens nie die omstandighede in hierdie skole vergelyk met die skole waar leerders van arme en werkende ouers skoolgaan nie. Ons moet die klasse - verskille en ongelykhede aanspreek om te verseker dat alle leerders kwaliteit onderwys kry.
Ons erken dat daar bepaalde probleme in die onderwysdepartement is, maar om die blaam grootliks voor die deur van die onderwysdepartement te plaas en onsubstantiewe stellings te maak en amptenare te beledig, sal nie positief bydra tot die verbetering van die matriekuitslae nie. SADOU wil nie politieke punte aanteken deur vinger te wys en homself beter as ander onderwysersunies te sien nie. Alle rolspelers moet kollektief verantwoordelikheid aanvaar vir die uitslae. SADOU is van mening dat onderwys ‘n publieke aangeleentheid is, wat aan die publiek behoort. Die uitdaging vir alle rolspelers is om die hele skolestelsel te evalueer om sodoene werkbare en langtermyn oplossings te vind.
SADOU het eweneens pro-aktiewe inisiatiewe in plek gebring om hul lede te bemagtig ten opsigte van die nuwe kurrikulum, maar ons roem nie daarop nie. Ons ag dit as deel van ons verpligtinge teenoor ons kollegas. So byvoorbeeld het ons, in samewerking met die onderwysdepartment en Maskew Miller, ‘lead teachers’ opgelei om deel te wees van indiensopleidingsprogramme van ons lede. SADOU is deurlopend besig met sulke en ander programme. Indiensopleding van ons lede is deel van ons professionele plig teenoor ons lede. Ons beskou nie enigiets wat ons doen, beter as ons mede-unies se inisiatiewe nie. Unies moet uitreik na mekaar en nie kompeteer met mekaar nie. Rolspelers moet op ‘n gereelde basis gesamentlike pogings aanwend om ‘n leerkultuur onder leerders te bevorder. Ons doen ‘n beroep op alle SADOU- lede van alle gemeenskappe om hul dienste vrywillig beskikbaar te stel om ekstra klasse en lees - aktiwiteite vir leerders aan te bied.
SADOU is onvoorwaardelik toegewyd tot kwaliteitonderrig en is trots op ons lede. Ons erken dat daar nog baie uitdagings in ons onderwysstelsel is, en verseker almal dat SADOU alles in sy vermoë sal doen om die slaagsyfer te verbeter.
Ons wil ALLE onderwysers aanmoedig om steeds hul beste te gee, om kwaliteit-onderrig aan ons land se leerders te verseker Ons wil ook ons onderwysers aanmoedig om die leerders wat in 2009 onsuksesvol was, te help en te ondersteun by wyse van addisionele klasse, om hulle in staat te stel om ook matriek in die aanvullende eksamen te kan slaag.










